Donker Toekoms

My trane drup soos bloed,

My sielerus is erg versteur,

Ek word skielik terug gedwing,

Na ‘n sogenaamde reenboog nasie.

 

My rooskleurige toekoms is tot niet!

My veilige hawe was net ‘n illusie,

Al wat oorbly, is die donker hel van bekommernis,

Die hoekoms en die waaroms wat onbeantwoord bly.

 

Jy sal weer jou knie buig voor die Vader!

Teruggedwing word na ‘n stowwerige, hardgebakte aarde,

Jy sal weer leer om te bid, om Hom te erken!

Die Een wat nooit slaap nie.

 

Gedink jy kan weghardloop van jou Vaderland?

Jou heil iewers anders soek, veilig en warm?

Jou mense versaak? Van ‘n veilige afstand staan en kyk,

Soos ‘n toeskouer met hande netjies gevou.

 

Suid-Afrika! Jou Vaderland met geen blyplek, geen werk,

Nou net nog een arm blanke, wat moet veg,

Veg vir die reg om te lewe, ‘n regmatige plekkie in die son,

Van voor af! Van onder af! Klippe, sal jy kou!

Liefdesoffer

In die naam van liefde,

Sit ek vasgekluister in ‘n kamer

In die naam van liefde,

Het ek my familie versaak

In die naam van liefde,

Het ek my vriende op gegee

In die naam van liefde,

Het ek my kinders agter gelaat

In die naam van liefde,

Bly ek hoop vir ‘n beter toekoms

In die naam van liefde,

Wens ek vir ‘n wonderwerk

In die naam van liefde,

Hoop ek ….

Jy is dit werd

Leë dop

Ek sukkel om te beweeg

My lyf so tam en moeg

 

Niks maak meer sin nie

Die lus vir die lewe het verdwyn

Elke asemteug, soveel moeite

Dit kom met rukke en stote

 

My kop wat doef, doef klop

Met ’n aanhoudende dowwe pyn

My hande wat bewe

Soos ’n ou mens sonder krag

 

Is my hart ooit nog daar?

Al die pyn het hom klaar

Dis soos ’n lewende klip

Slegs die liggaam wat hom nog laat pomp

 

Ek is nie honger

Kos kan my tog nie help

My glimlag het verdwyn

In sy plek, net ’n leë blik in die oë

 

My siel is besig om te sterf

Slegs my liggaam is nog daar

Verlange en seerkry

My liefdes offer… vertrap

 

Ek sweef, sag, sag

Warrelend in die wind

Soekend, onbegrypend

Tot aan die einde, niks gevind

My Ouma, My Held

Wat is ’n held nou eintlik?  Volgens die woordeboek is dit iemand wat heldedade verrig, ’n semi-god. Vir ons almal het dit seker ’n verskillende betekenis.  Vir party is dit ’n belangrike openbare persoon, vir ander iemand meer konkreets in hul lewe.  Vir my egter, is dit my dierbare Ouma.

Ja, sy is lankal nie meer met my nie.  Dis seker al twintig jaar wat sy oorlede is, maar in my hart sal sy altyd my held bly.  Die goeie verteenwoordig, dit wat ek graag sou wou wees.

Vir haar was niks belangriker as haar Godsdiens nie.  Die Here was eerste in haar lewe.  Sy het dan ook haar lewe so probeer lei dat sy God nie sou teleurstel nie.  Sy het ook maar ’n moeilike lewe gehad.  Sy het grootgeword in destydse Suidwes met elf broers en susters.  Dinge was daai jare nie maklik nie.

Na my Oupa se afsterwe toe my ma omtrent drie jaar oud was het sy nooit weer ’n man naby haar toegelaat nie en het sy haar drie kinders op haar eie grootgemaak. Dit moes bitter swaar vir haar gewees het.  ’n Weduwee, enkel moeder en koshuis matrone wat lang ure moes werk om kop bo water te hou, maar sy het nooit gekla nie.

Vandat ek maar kan onthou het sy meestal by ons gebly, na ek en my broers omgesien terwyl my ouers gewerk het.  Soms het sy egter vir haar twee seuns gaan kuier en dan was die leemte in my hart natuurlik baie groot.

Toe ek op Laerskool was, was Sy altyd die een wat ons na skool ingewag het by die huis, wat ons voorsien het van lekker toebroodjies en warm rooibostee.  Sy was die een wat ons gehelp het met ons huiswerk, met ons geraas het wanneer dit nodig was en geluister en vertroetel het as ons seerkry.  Sy het waarlik die rol van Moeder vervul in elke opsig.

Later toe ek grootword en hoërskool toe moes gaan, was sy weereens my rots en steunpilaar.  Alhoewel my Ouma deel van die “ouer garde” uitgemaak het en nooit oor goed soos seks gepraat het nie (want dit was taboe), het sy die leemte raakgesien en gevul op ’n manier wat sy kon.  Nee, sy het nie met my gepraat oor seks nie – nooit nie, maar sy het geweet dat ek verskriklik lief is vir lees.  Sy het vir my ’n boek gekoop oor seks en die menslike liggaam.  Ek het dit natuurlik verslind en sal haar vir altyd dankbaar wees aangesien sy my toegerus het met kennis, iets wat my ouers nagelaat het om te doen.

Toe ek in standerd sewe was, het my wêreld skielik omgedop.  My ouers het besluit om te skei.  EK kon dit nie verstaan nie, het dit glad nie gesien kom nie, maar gelukkig vir my was my dierbare Ouma weereens daar.  Sy het dinge soveel makliker gemaak vir my, my nooit verwyt nie.  Ook al het die rebel binne my toe behoorlik uitgekom en ek verkeerde keuses gemaak.

Ek was so dankbaar dat ek haar by my kon hê op my troudag!  Ek onthou dit nog soos gister, sy het so mooi gelyk in haar beige pakkie.  Die trotse Ouma, al het haar liefling kleindogter haar teleurgestel.  Al het ek nie opgeleef na haar verwagtinge nie.  Sy het seker geweet, dis my manier van wegkom uit die huis uit, weg van die seer, die baklei en die algehele verval van my gesin.

Ongelukkig het ek haar toe minder gesien, ek het allermins van Vereeniging af Heilbron toe getrek.  My ouers is toe ook nie lank daarna nie finaal uitmekaar en het elkeen sy eie rigting ingeslaan.  My Ouma het saam met my ma en broers Mooinooi toe getrek en ek en my man Vereeniging toe.  Weereens was sy die dienende Martha, hierdie keer vir my ma en broers.

Sy was al in haar sewentigerjare, maar buiten vir ’n bietjie lae bloeddruk nog heeltemal gesond.  Sy het nie eers grys hare gehad nie en nee sy het dit Nooit gekleur nie.  Sy het die voorreg gehad om Oumagrootjie te word met my dogter se geboorte.  Ek is so bly ek kon dit met haar deel.

En toe die skokkende nuus – Ouma het geval a.g.v. haar lae bloeddruk en haar bekken been gebreek.  Sy is in Rustenburg in die hospitaal opgeneem.  Watse skok moes dit nie vir haar wees nie?!  Sy, die sterk vrou, ouma en ma wat skielik so hulpeloos daar moes lê.  Die een wat altyd so onafhanklik was en na almal se behoeftes omgesien het, was nou die weerlose en afhanklike een.

En ergste van als was dat ek nie daar kon wees vir haar nie.  In die ses weke wat sy daar in die hospitaal gelê het, hulpeloos en alleen, het ek haar maar eenkeer besoek.  Dit was vir my ’n helse skok om my dierbare Ouma so te sien.  Sy kon of wou nie eers regtig met my praat nie.  Ek het nie lank gebly nie, ek kon nie!  Dit was te seer om haar so te sien.

Na haar ontslag uit die hospitaal het my Tannie haar ingeneem en versorg.  Sy het haar elke dag gewas, doeke omgeruil en later die bedsere probeer dokter.  Dit het egter vir haar ook te veel geraak en hul het besluit om my Ouma in die ouetehuis te plaas in Koster.  Als was reeds gereël toe ek daarvan hoor.  Ek was nie gelukkig daarmee nie, maar wat kon ek doen?  Ek het nie vervoer gehad op daardie stadium nie en het vêr gebly.  Dit was ook nie vir my moontlik om na haar om te sien nie.  En in die hele tyd na my hospitaal besoek het ek haar nie weer gesien nie.

Die Woensdagoggend het my Tannie en Oom vir Ouma ouetehuis toe gevat.  Sy wou nie daar wees nie!  Sy het seker geweet dit sou haar einde beteken.  EK het swaar gesluk aan die wete dat sy nou daar “gedump” is, maar my hande was afgekap.  Die lewe moes seker maar aangaan.

Die aand kry ek ’n oproep – van my Tannie van alle mense!  “Ouma roep na jou! Jy moet asb. dadelik deurkom.”  Ek kon nie, al wou ek hoe graag.  Ek het nie vervoer gehad nie en my pa sou nie sy kar vir my leen nie, hy moes die volgende dag gaan werk.  Ek het toe beloof om die naweek deur te gaan.

Het ek maar van beter geweet! Want skaars ’n uur of wat later was Ouma dood.  My dierbare, liefste Oumsie – dood!  Sy het geroep, gevra na my! Maar ek het nie gehoor gegee aan die laaste wens van die persoon wat vir my die liefste was nie.  En vandag nog loop ek met die verwyt in my hart rond, verkwalik ek myself dat ek my liefste Oumsie in haar nood versaak het.  Loop ek met die vrae in my hart rond – wat wou sy so graag vir my sê?

Hul sê dat jare die pyn dof maak.  Dit mag miskien so wees, maar dit sal nooit heeltemal verdwyn nie, ook nie die selfverwyt nie.

18 Julie sal vir ewig in my geheue vasstaan, nie vir iemand so onbelangrik soos Mandela se verjaarsdag nie, maar wel ter nagedagtenis aan my dierbare Ouma.

Die een persoon wat my onvoorwaardelik liefgehad het, altyd daar was vir my in elke opsig,

My Ma, Ouma, Vriendin, Mentor en my enigste Held!

(Ter nagedagtenis aan Martha Aletta Coetsee)

(Gebore op 18 Julie 1918 tot  Julie 1995)

Mans wat betaal vir seks

Ek sit mos nou vanmôre hier by myself en dink, sommer aan allerhande goed wat skielik in my kop opkom en toe dink ek aan die kwessie van mans wat vir seks betaal.

Mans wat ’n hoer sal betaal vir seks, mans wat pornografiese boeke en video’s sal koop, mans wat skelm internet rekenings oopmaak vir aanlyn seks en pornografie, om maar net ’n paar te noem.

Nou ek weet nie van julle nie, maar ek is verskriklik gekant teen die feit dat daar iets soos hoere bestaan.  Die feit dat daar iets soos pornografie vrylik beskikbaar is.  Jy kan jou nie draai nie, dan kyk jy vas in die versoekings – van die straathoek tot in ons huise op ons rekenaars.  Dis soos ’n melaatse siekte, maak nie saak wat jy doen nie, maar jy kan net nie daarvan ontslae raak nie.

En wat die ergste is daarvan, is die feit dat sommige mans heeltemal gelukkig getroud of in ’n gelukkige verhouding is (waar daar ook in hul seksuele behoeftes voorsien word) en hul val nog steeds in hierdie baie lelike “kankerende siekte” se kloue.

Dit gaan alreeds my verstand te bowe dat mans (ek weet daar is vroue ook) hulself so sal verlaag om toe te gee aan hierdie “siekte”, maar om sovêr te gaan en fisies te betaal vir seks? 

Weet jy, dis eintlik so ’n hartseer saak.  Ek bedoel, dink mooi daaroor, mans wat fisies iemand moet betaal om seks te hê?  Hoe desperaat moet so ’n persoon nie wees nie?  Hoe eensaam en alleen moet hy nie wees nie?  Hoe min selfvertroue moet hy nie hê nie?  Of is dit gewoon ’n geval van – ek sal, want ek kan!

Baie mans kom met die verskoning na vore dat hul vrou nie in hul seksuele behoeftes voorsien nie, hul nie verstaan en ondersteun nie, dat hul by mekaar verby leef ens. ens.  Regverdig dit regtig wat hul aan hul vrouens, kinders, mense wat hul lief het en omgee en belangrikste van als:  aan hulself doen? 

As ek een wens kon kry op hierdie aarde sou dit wees dat ons geheel en al verlos sou word van die tipe versoeke en morele verval.  Ongelukkig leef ons in moderne tye en op die ou end van die dag lê elke persoon se keuses in sy eie hande.