My Ouma, My Held

Wat is ’n held nou eintlik?  Volgens die woordeboek is dit iemand wat heldedade verrig, ’n semi-god. Vir ons almal het dit seker ’n verskillende betekenis.  Vir party is dit ’n belangrike openbare persoon, vir ander iemand meer konkreets in hul lewe.  Vir my egter, is dit my dierbare Ouma.

Ja, sy is lankal nie meer met my nie.  Dis seker al twintig jaar wat sy oorlede is, maar in my hart sal sy altyd my held bly.  Die goeie verteenwoordig, dit wat ek graag sou wou wees.

Vir haar was niks belangriker as haar Godsdiens nie.  Die Here was eerste in haar lewe.  Sy het dan ook haar lewe so probeer lei dat sy God nie sou teleurstel nie.  Sy het ook maar ’n moeilike lewe gehad.  Sy het grootgeword in destydse Suidwes met elf broers en susters.  Dinge was daai jare nie maklik nie.

Na my Oupa se afsterwe toe my ma omtrent drie jaar oud was het sy nooit weer ’n man naby haar toegelaat nie en het sy haar drie kinders op haar eie grootgemaak. Dit moes bitter swaar vir haar gewees het.  ’n Weduwee, enkel moeder en koshuis matrone wat lang ure moes werk om kop bo water te hou, maar sy het nooit gekla nie.

Vandat ek maar kan onthou het sy meestal by ons gebly, na ek en my broers omgesien terwyl my ouers gewerk het.  Soms het sy egter vir haar twee seuns gaan kuier en dan was die leemte in my hart natuurlik baie groot.

Toe ek op Laerskool was, was Sy altyd die een wat ons na skool ingewag het by die huis, wat ons voorsien het van lekker toebroodjies en warm rooibostee.  Sy was die een wat ons gehelp het met ons huiswerk, met ons geraas het wanneer dit nodig was en geluister en vertroetel het as ons seerkry.  Sy het waarlik die rol van Moeder vervul in elke opsig.

Later toe ek grootword en hoërskool toe moes gaan, was sy weereens my rots en steunpilaar.  Alhoewel my Ouma deel van die “ouer garde” uitgemaak het en nooit oor goed soos seks gepraat het nie (want dit was taboe), het sy die leemte raakgesien en gevul op ’n manier wat sy kon.  Nee, sy het nie met my gepraat oor seks nie – nooit nie, maar sy het geweet dat ek verskriklik lief is vir lees.  Sy het vir my ’n boek gekoop oor seks en die menslike liggaam.  Ek het dit natuurlik verslind en sal haar vir altyd dankbaar wees aangesien sy my toegerus het met kennis, iets wat my ouers nagelaat het om te doen.

Toe ek in standerd sewe was, het my wêreld skielik omgedop.  My ouers het besluit om te skei.  EK kon dit nie verstaan nie, het dit glad nie gesien kom nie, maar gelukkig vir my was my dierbare Ouma weereens daar.  Sy het dinge soveel makliker gemaak vir my, my nooit verwyt nie.  Ook al het die rebel binne my toe behoorlik uitgekom en ek verkeerde keuses gemaak.

Ek was so dankbaar dat ek haar by my kon hê op my troudag!  Ek onthou dit nog soos gister, sy het so mooi gelyk in haar beige pakkie.  Die trotse Ouma, al het haar liefling kleindogter haar teleurgestel.  Al het ek nie opgeleef na haar verwagtinge nie.  Sy het seker geweet, dis my manier van wegkom uit die huis uit, weg van die seer, die baklei en die algehele verval van my gesin.

Ongelukkig het ek haar toe minder gesien, ek het allermins van Vereeniging af Heilbron toe getrek.  My ouers is toe ook nie lank daarna nie finaal uitmekaar en het elkeen sy eie rigting ingeslaan.  My Ouma het saam met my ma en broers Mooinooi toe getrek en ek en my man Vereeniging toe.  Weereens was sy die dienende Martha, hierdie keer vir my ma en broers.

Sy was al in haar sewentigerjare, maar buiten vir ’n bietjie lae bloeddruk nog heeltemal gesond.  Sy het nie eers grys hare gehad nie en nee sy het dit Nooit gekleur nie.  Sy het die voorreg gehad om Oumagrootjie te word met my dogter se geboorte.  Ek is so bly ek kon dit met haar deel.

En toe die skokkende nuus – Ouma het geval a.g.v. haar lae bloeddruk en haar bekken been gebreek.  Sy is in Rustenburg in die hospitaal opgeneem.  Watse skok moes dit nie vir haar wees nie?!  Sy, die sterk vrou, ouma en ma wat skielik so hulpeloos daar moes lê.  Die een wat altyd so onafhanklik was en na almal se behoeftes omgesien het, was nou die weerlose en afhanklike een.

En ergste van als was dat ek nie daar kon wees vir haar nie.  In die ses weke wat sy daar in die hospitaal gelê het, hulpeloos en alleen, het ek haar maar eenkeer besoek.  Dit was vir my ’n helse skok om my dierbare Ouma so te sien.  Sy kon of wou nie eers regtig met my praat nie.  Ek het nie lank gebly nie, ek kon nie!  Dit was te seer om haar so te sien.

Na haar ontslag uit die hospitaal het my Tannie haar ingeneem en versorg.  Sy het haar elke dag gewas, doeke omgeruil en later die bedsere probeer dokter.  Dit het egter vir haar ook te veel geraak en hul het besluit om my Ouma in die ouetehuis te plaas in Koster.  Als was reeds gereël toe ek daarvan hoor.  Ek was nie gelukkig daarmee nie, maar wat kon ek doen?  Ek het nie vervoer gehad op daardie stadium nie en het vêr gebly.  Dit was ook nie vir my moontlik om na haar om te sien nie.  En in die hele tyd na my hospitaal besoek het ek haar nie weer gesien nie.

Die Woensdagoggend het my Tannie en Oom vir Ouma ouetehuis toe gevat.  Sy wou nie daar wees nie!  Sy het seker geweet dit sou haar einde beteken.  EK het swaar gesluk aan die wete dat sy nou daar “gedump” is, maar my hande was afgekap.  Die lewe moes seker maar aangaan.

Die aand kry ek ’n oproep – van my Tannie van alle mense!  “Ouma roep na jou! Jy moet asb. dadelik deurkom.”  Ek kon nie, al wou ek hoe graag.  Ek het nie vervoer gehad nie en my pa sou nie sy kar vir my leen nie, hy moes die volgende dag gaan werk.  Ek het toe beloof om die naweek deur te gaan.

Het ek maar van beter geweet! Want skaars ’n uur of wat later was Ouma dood.  My dierbare, liefste Oumsie – dood!  Sy het geroep, gevra na my! Maar ek het nie gehoor gegee aan die laaste wens van die persoon wat vir my die liefste was nie.  En vandag nog loop ek met die verwyt in my hart rond, verkwalik ek myself dat ek my liefste Oumsie in haar nood versaak het.  Loop ek met die vrae in my hart rond – wat wou sy so graag vir my sê?

Hul sê dat jare die pyn dof maak.  Dit mag miskien so wees, maar dit sal nooit heeltemal verdwyn nie, ook nie die selfverwyt nie.

18 Julie sal vir ewig in my geheue vasstaan, nie vir iemand so onbelangrik soos Mandela se verjaarsdag nie, maar wel ter nagedagtenis aan my dierbare Ouma.

Die een persoon wat my onvoorwaardelik liefgehad het, altyd daar was vir my in elke opsig,

My Ma, Ouma, Vriendin, Mentor en my enigste Held!

(Ter nagedagtenis aan Martha Aletta Coetsee)

(Gebore op 18 Julie 1918 tot  Julie 1995)